Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA

SARLNUUS SONDAG 30 SEPTEMBER 2007

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Om na oudio via die web, of dmv. Echolink deur ZS6FCS te luister, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui.

Hierdie, en vorige bulletins, kan ook van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Johan, ZS6JPN, vanuit Pretoria met herleidings op 51,400, 10,135, 7,066 en 3,695 MHz asook 438,825 en 1 297 MHz in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons die afsterwe van Tony Cartwright, ZS6BKO, op 22 September 2007 na 'n lang siekbed moet aankondig. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy eggenote, Cory, ander familie en baie vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

KLUBS GAAN ZU-EKSAMENS ADMINISTREER

SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM TOT VOLGENDE JAAR UITGESTEL

INTEGNET EN DIE PRESIDENTSNET VOLGENDE NAWEEK

LEERDERS SAL MET MARK SHUTTLEWORTH PRAAT

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

KLUBS GAAN ZU-EKSAMENS ADMINISTREER

Die SARL is verheug om aan te kondig dat reëlings gefinaliseer is dat ge-affileerde klubs in die toekoms self die eksamens vir die Klas B-lisensie vir hulle studente mag opstel en te laat aflê. Hierdie nuwe reëling beteken dat Klas B-eksamens nou enige tyd van die jaar kan geskied bo en behalwe die die nasionale eksamens wat in Mei en Oktober afgelê word.

Die prosedure om te volg is in sy finale stadium van voorbereiding en sal gedurende die Presidentsnet volgende Sondagaand bespreek word. Vanaf volgende Sondag sal die benodigde dokumentasie op die web in die afdeling vir lede alleen beskikbaar wees.

SA AMSAT SE RUIMTESIMPOSIUM TOT VOLGENDE JAAR UITGESTEL

SA AMSAT het sy ruimtesimposium tot volgende jaar uitgestel. Die organisasie het tot hierdie besluit gekom aangesien weens te min ondersteuning vir hierdie gebeurtenis. Toe hulle ondervra is, het baie moontlike bywoners gesê dat daar te veel dinge hierdie tyd van die jaar plaasvind. Op 6 oktober is daar alleen twee ander klubvergaderings en snuffelmarkte in Gauteng met nog vergaderings aan weerskante van hierdie datum.

SA AMSAT se komitee sal aandag skenk aan alternatiewe datums en binnekort ‘n verdere aankondiging doen.

INTEGNET EN DIE PRESIDENTSNET VOLGENDE NAWEEK

Die Presidentsnet sal volgende Sondagaand om 19:00 aangebied word en sal om 20:00 deur Integnet gevolg word.

Die SARL se President, Graham Hartlett, sal praat oor planne vir die AJV in 2008 en nominasies vir die Raad wat binnekort gedoen moet word.

Integnet sal gaan oor die HMO/SARL se 40 meter bakenprogram wat gelei sal word deur Dr Lee-Anne McKinnell van die HMO. John Willescroft, ZS6EF, wat die bakentoerusting bou, sal praat oor die ontwerp en bedryfsaangeleenthede. ‘n Aanbieding in PowerPoint sal later vandeesweek op die web beskikbaar kom. Besoek www.sarl.org.za en klik op ARMI.

Klubs wat hulle herhalers aan die net wil koppel moet teen Saterdag 6 Oktober besonderhede en die telefoonnommer waardeur hulle wil koppel aan armi@sarl.org.za stuur.

SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE GEDENK LANSERING VAN SPUTNIK 1

Die Boland Amateurradioklub sal die lansering van die wêreld se eerste satelliet, Sputnik 1, met ‘n spesiale geleentheidstasie oor die naweek van 6 tot 7 Oktober gedenk, wat bedryf sal word vanaf die satellietgronbeheerstasie aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sputnik was die wêreld se eerste satelliet wat 50 jaar gelede op 4 Oktober 1957 deur die Russe gelanseer is. Suid-Afrika se eerste satelliet Sun Sat OSCAR 35 is op 23 Februarie 1999, ‘n paar maande meer as 42 jaar later gelanseer. Beide gebeurtenisse is egter belangrik. Sputnik 1 het aan die wêreld getoon dat die wetenskapfiksieboeke van verskeie skrywers nie so erg fiksie was nie en Sun Sat het getoon wat met deursettingsvermoë bereik kan word.

Die stasie sal op HF en BHF onder die roepsein ZS50SPUT aktief wees. ‘n Herdenkings-QSL-kaart sal aan alle stasies gestuur word wat qsl NA Posbus 273, Strand, 7140. Sluit asseblief ‘n DL-grootte, selfgeadresseerde en gefrankeerde koevert in.

Lede van die Boland Amateurradioklub sal die spesiale geleentheidstasie regdeur Oktober bedryf.

LEERDERS SAL MET MARK SHUTTLEWORTH PRAAT

Leerders vanuit verskeie dele van Suid-Afrika sal op Woensadg 10 Oktober met Mark Shuttleworth praat. Hierdie leerders is met behulp van ‘n opstelkompetisie gekies. Daar is nog twee dae oor vir individuele inskrywings. Besoek www.sarl.org.za vir besonderhede. Die beste inskrywing sal vir sy skrywer ‘n skootrekenaar wen.

DIE SARL SE PRESIDENT HET VOO-ONDERWYSERS TOEGESPREEK

Graham Hartlett, ZS6GJH, het ‘n groep onderwysers, wat ‘n kursus aan die Ekurhuleni Kollege vir Verdere Onderrig en Opleiding, wat deur die Departement van Kommunikasie gereël is, toegespreek. Die doelwit van die kursus is om onderwysers te leer om amateurradio in hulle kolleges in te voer.

hy het genoem dat amateurradio nie net ‘n plesieraktiwiteit is nie, maar ‘n aktiwiteit is wat ‘n positiewe bydrae lewer tot die verdere opleiding van jongmense in die dissiplines van wetenskap, ingenieurswese en tegnologie.

Kolleges vir Verdere Onderrig en Opleiding (VOO) streef daarna om hoë kwaliteit onderrig en opleiding te voorsien ten einde leerders te help om hulleslf met kwalifikasies en vaardighede toe te rus ten einde met ‘n verkose loopbaan te begin. Amateurradio kan ‘n waardevolle bydrae lewer met loopbaankeuse en boonop addisionele basiese tegniese en kommunikasievaardighede kweek wat jongmense in staat sal stel om dienste aan hulle gemeenskap te lewer soos met noodkommunikasie en tydens groot sportbyeenkomste.

SARL 80 METER QSO-GESELLIGHEID

Die rweede been van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid word op Donderdagaand 4 Oktober gehou, dit begin om 19:00 SAT en eindig 3 ure later. Dit is 'n foonkompetisie in die bandgedeelte 3,603 tot 3,700 MHz. Jou roepsein, 'n RS-verslag en 'n reeksnommer wat by 001 begin word uitgeruil. Die volledige reëls is beskikbaar in die 2007 SARL Kompetisieboek.

HF-BANDE IS LOKAAL ONSTABIEL TOT SWAK

Spaceweather.co.za rapporteer dat die sonwindspoed 575 km/s bereik het, met die Bz-komponenet van die interplanetere magnetiwese veld noordwaarts gerig wat beteken dat die aarde se magnetosfeer maksimum beskerming teen sonwinde bied.

Geomagnetiese toestande is by aktiewe vlakke. HF-bande vir lokale werking is onstabiel tot swak. Die vooruitsig vir die week is dat ‘n koronale gat op die sonskyf na ‘n geo-effektiewe posisie beweeg het en dat meer versteurde HF-toestande verwag kan word. Die son was vir 21 dae aaneenlopend skoon, maar gister het ‘n nuwe sonvlek te voorskyn gekom

Lokaal behoort 40 m ‘n goeie pad tussen Kaapstad en Pretoria vanaf ongeveer 06:00 vir meeste van die dag te bied maar sal na 18:00 vinnig verswak wanneer 80 m bruikbaar sal raak. Vir die Durban – Pretoriapad sal 40 m eers by ongeveer 08:00 oopmaak en ook laat namiddag toemaak. 80 m is ‘n goeie opsie vir beide paaie gedurende die aande maar sal die beste tussen 18:00 en 22:00 wees. Die toestande tussen Kaapstad en Durban sal baie soortgelyk as dié tussen Kaapstad en Pretoria wees.

DX-gewyse sal tussen 16:00 en 20:00, 15 m eerste oopmaak en kort daarna 20 m en beide sal bruikbaar wees na die ooskus, en kortpad na die weskus van die VSA.

DAGBOEK VAN GEBEURE

30 September – Laaste dag vir kommentaar oor RAE-studiegids:
4 Oktober – SARL 80 meter QSO-geselligheid;
4 - 10 Oktober - Spesiale ruimteprogram;
5 Oktober – Neem jou handdraagstel na die werk dag;
6 Oktober – Oosrand Amateurradioklub se vlooimark en AJV;
6 Oktober – SAATI AJV;
6 tot 7 Oktober – Spesiale stasie ZS50SPUT op die lug;
7 Oktober – Presidentsnet en Integnet;
18 Oktober - Klas A RAE;
20 Oktober – Kommentaar oor SARL 2008 Kompetisiehandboek moet ingestuur wees.

Sarlnuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003